SeniorSensasieSamekoms – Brits

PLATINUM-STREEK

Senior_Sensasie_Samekoms_1
Senior_Sensasie_Samekoms_2
Senior_Sensasie_Samekoms_3

In 2025 het Helpende Hand Brits-tak vyf welstandsdae vir seniors aangebied in samewerking met ons streekspersoneel. Hierdie geleenthede is spesiaal ingerig om senior burgers te bemagtig en ondersteun met gratis, insiggewende praatjies en doelgerigte aktiwiteite, aangebied met die ondersteuning van verskeie rolspelers in die Brits-gemeenskap.

Die behoefte aan hierdie byeenkomste het ontstaan weens die beperkte aantal ouetehuise en hulpbronne wat vir bejaardes beskikbaar is. Baie senior burgers is nie bewus van die ondersteuning en dienste in hul gemeenskap nie en beleef vereensaming omdat hulle nie meer aktief by 'n gemeente of ondersteuningsnetwerk inskakel nie.

Die fokus van die byeenkomste was die holistiese welstand van senior burgers, met spesiale aandag aan hul fisiese, emosionele, sosiale, finansiële en geestelike behoeftes. Die program het 'n veilige, ondersteunende ruimte geskep waar seniors nie net waardevolle inligting kon ontvang nie, maar ook die geleentheid gehad het om sosiaal te verkeer, nuwe verhoudings te bou en deel te voel van 'n groter gemeenskap.

Geen samekoms sou lekker wees sonder iets lekkers om te eet nie! Heerlike peuselhappies het bygedra tot die warm, gesellige atmosfeer en die gevoel van saamwees verder versterk. Ná die vyf byeenkomste in 2025, waaraan gemiddeld tussen 60 en 80 bejaardes per geleentheid deelgeneem het, het Helpende Hand Brits-tak besef daar is 'n behoefte aan 'n volhoubare struktuur om die welstand van bejaardes in die gemeenskap deurlopend te ondersteun.

Na afloop van die byeenkomste het agt senior dames met groot entoesiasme hul hande opgesteek om aktief betrokke te raak by Solidariteit Helpende Hand Brits om spesifiek te fokus op dienslewering en ondersteuning aan bejaardes in die gemeenskap.

Op 27 Januarie 2026 is die SeniorSensasieSamekoms-komitee amptelik gestig. Tydens hierdie vergadering is daar besluit om elke tweede Dinsdagoggend van 10:00 tot 11:00 by die Brits Dienssentrum bymekaar te kom om die welstandsbyeenkomste op 'n kleiner, meer informele wyse voort te sit.

Reeds op 3 Februarie 2026 is die eerste samekoms met groot sukses aangebied. Altesaam 43 senior burgers – mans en vroue uit die gemeenskap – het die eerste byeenkoms bygewoon. Dit was 'n heerlike kenmekaar-sessie gevul met opregte gesprekke, gedeelde stories, lag en selfs trane. Oor 'n koppie koffie en beskuit is bande gesmee en het teenwoordiges begin tuis voel.

Die SeniorSensasieSamekomste vind steeds elke tweede Dinsdag van 10:00 tot 12:00 by die Brits Dienssentrum plaas (en soms selfs later wanneer die kuier net te lekker raak!).

Indien jy graag hierdie byeenkomste wil bywoon of meer inligting wil ontvang, kontak gerus:

Brits-takvoorsitter:
Daleen – 076 228 9422

Projekleiers:
Margreth – 076 155 3737
Carolina – 067 084 0073