Seniors in Aksie

PLATINUM-STREEK

SIA_1
SIA_2
SIA_3

Kuier, Klets en Kielie die Spiere-projek skop in 2026 af by Bergsig in Hartbeespoort

Bergsig Versorgingsoord in Hartbeespoort huisves ongeveer 40 senior dames. Die inwoners word met waardigheid versorg, toegerus en bedien. Baie van hulle is afhanklik van slegs hul SASSA-toelae. Alhoewel daar in hul basiese behoeftes voorsien word, bestaan daar steeds 'n groot behoefte aan stimulasieprogramme, sosiale betrokkenheid, besoeke en persoonlike aandag.

Marita, een van die Harties Hande-taklede, het reeds gedurende 2025 die Kuier, Klets en Kielie die Spiere-projek by Ellie Care in Hartbeespoort aangebied. Sy is deur die Platinum-streek se maatskaplike werker opgelei en bied hierdie waardevolle program nou vir die tweede agtereenvolgende jaar vir bejaardes aan.

Die Harties Hande-tak ondersteun Marita met die uitrol van die projek, terwyl die streekspersoneel sorg dat die bejaardes weekliks met 'n lekker soetigheid en soutigheid bederf word.

Vanjaar baat 15 senior dames van die tehuis by hierdie projek. Die program bied nie net fisiese aktiwiteit en stimulasie nie, maar skep ook ruimte vir lag, gesels, saam kuier en emosionele ondersteuning – iets wat vir baie van die inwoners van onskatbare waarde is.