Hoopdraer-toekennings
PLATINUM-STREEK
Helpende Hand se Hoopdraer-toekennings
Internasionale Maatskaplikewerkersdag word elke jaar in Maart gevier. Dit is 'n dag van eerbetoon aan maatskaplike werkers, 'n dag waarop ons die onbaatsugtige werk vier van dié stille bouers van hoop in ons samelewing.
Vir maatskaplike werkers is hul beroep nie net 'n werk nie; dit is 'n roeping. Om hierdie toewyding te erken, vat Helpende Hand en Solidariteit se Beroepsnetwerke hande om maatskaplike werkers met die Hoopdraer-toekenning te vereer.
Ontvangers van die toekennings word reeds vroeg in die jaar deur die publiek genomineer vir hul passievolle toewyding en die bevordering, herstel en verbetering van maatskaplike funksionering in hulle gemeenskappe. Hierdie toekennings is nie net 'n simbool van waardering nie, maar 'n huldeblyk aan die individue wat die ekstra myl stap om ander te ondersteun en gemeenskapslede te help ontwikkel sodat gemeenskappe gesond kan funksioneer. Die afgelope vier jaar het drie maatskaplike werkers in die Platinum-streek hierdie toekenning verower.