Helpende Hand Harties Hande-tak – Persketee
PLATINUM-STREEK
Helpende Hand Harties Hande-tak – Persketee
Helpende Hand Harties Hande-tak het op 9 Mei 'n besonderse Persketee aangebied ten bate van die bejaardes in die gemeenskap.
Die dag het afgeskop met 'n inspirerende praatjie deur dr. Hannelie Groenewald, skrywer van Terreur in Kaboel, waar sy met die gehoor gesels het oor waar God in moeilike tye is en haar aangrypende verhaal gedeel het.
Janet, lid van Helpende Hand Harties Hande-tak en eienaar van Ons Winkel Hartbeespoort, het gedeel hoe belangrik bejaardes vir die Harties Hande-Tak en is.
Desiree Oosthuyzen, streeksorganiseerder van Helpende Hand Platinum-streek, het die gehoor meer vertel oor die groter prentjie van Helpende Hand en die belangrike rol wat bejaardes oor die ouderdom van 80 in ons gemeenskappe speel.
Nadia van der Merwe, maatskaplike werker van die Platinum-streek, het op haar beurt gesels oor die welstand van bejaardes in hedendaagse tye en hoe gemeenskappe hulle steeds aktief kan betrek met verskeie aktiwiteite en projekte, sodat hul wysheid, kennis en ervaring oorgedra kan word aan volgende geslagte.
Altesaam 160 mense is bedien en 160 vrugterolle is ingesamel wat aan bejaardes uitgedeel gaan word. Uitstallers het ook die geleentheid gehad om hul produkte, talente en passie met die gemeenskap te deel.
Baie dankie aan Helpende Hand Harties Hande-tak vir julle harde werk, liefdevolle diens en opregte omgee vir die bejaardes in ons gemeenskap!
Na die wonderlike Persketee en insameling van vele perskerolle as 'n simbool van omgee en hoop vir bejaardes kon Helpende Hand Harties Hande-tak die vrugterolle by verskeie tehuise vir bejaardes in die Hartbeespoort-gemeenskap gaan uitdeel. Hierdie perske-kuiers strek egter verder as 'n vrugterol – dit is 'n simbool van omgee en wys vir die bejaardes wat nie die geleentheid kon bywoon nie hulle word steeds waardeer, raakgesien en is kosbaar vir die Harties-gemeenskap.