GEE 5-skole-inisiatief
PLATINUM-STREEK
GEE 5-skole-inisiatief
PLATINUM-STREEK
GEE 5-skole-inisiatief
Met die GEE 5-skole-inisiatief wil Solidariteit Helpende Hand skole en kleuterskole bemagtig om deur die jaar 5 projekte binne elke skool se kapasiteit vir hulle gemeenskap te doen.
Hoekom?
Die doel is nie om duur of groot projekte met baie administratiewe vereistes aan te pak nie, maar eerder om kinders se kreatiwiteit en oorspronklikheid aan te wakker. Die GEE 5-skole-inisiatief kweek in ons kinders die WAARDE van gemeenskapsbetrokkenheid. Ons kan nie gemeenskappe bou en bevorder as ons nie ons gemeenskappe verstaan en in ons kinders 'n liefde en omgee vir hulle gemeenskap kweek nie. Voorbeelde van GEE 5-skoleprojekte is besoeke aan tehuise, skenkings, omgewingsbewaringsinisiatiewe en opleidings-, opvoedings- en ontwikkelingsprojekte waarby die groter gemeenskap kan baat.
Na elke 5 projekte ontvang die skool of die kinders 'n sertifikaat van Solidariteit Helpende Hand Platinum-streek om hulle geluk te wens met hulle deelname. Die projek is al twee jaar en aan die gang en sewe skole in die streek is daarby betrokke. In 2024 het die gemeenskap dus by 35 projekte gebaat! Van die projekte het die volgende behels:
- Kleuterskole het tehuise vir bejaardes besoek en bederfpakkies uitgedeel om eensaamheid te verlig.
- Dierekos is vir dierebeskermingsorganisasies ingesamel om omgewingsbewaring te bevorder.
- Kinderbeskermingsorganisasies en pleeghuise is besoek en het skenkings ontvang.
- Proppies is ingesamel vir die aankoop van rolstoele vir kinders met gestremdhede.
- Skole vir kinders met gestremdhede is besoek.
- Ouerbemagtigingsprojekte is geloods vir kinders wat nie kleuterskole kan bywoon nie.
- Kinders het terapiesakkies gemaak vir kinders en gesinne wat deur trauma gaan. Dit is aan terapeute, welsynsorganisasies en traumastentrums geskenk.
Hoe kan ek betrokke raak by die inisiatief in my gemeenskap?
Weet jy van 'n oulike projek wat kan deel vorm van die GEE 5-skole-inisiatief of is daar 'n organisasie wat kan baat by hierdie inisiatief? Het jy 'n kleuterskool of is jy 'n personeellid by 'n skool wat graag aan hierdie inisiatief wil deelneem? Ons streekspersoneel gee raad, leiding en idees om behoeftes in die gemeenskap effektief en op die regte manier aan te pak. Maak gerus kontak met ons streekspersoneel:
Nadia van der Merwe, Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Platinum-streek (083 613 1238)
Desiree Oosthuyzen, Streeksorganiseerder: Solidariteit Helpende Hand: (081 074 6928 – slegs WhatsApp of 078 365 8777)