Eksamen-PEN-projek

PLATINUM-STREEK

Eksamen-PEN-projek

PLATINUM-STREEK

IMG-20241004-WA0025
IMG-20241004-WA0011_-_Copy
20241004_081426_-_Copy2
20241004_0829482

Eksamen-PEN-projek

In 2023 het ons streek geïdentifiseer dat graad 4-7 leerders nie altyd toegerus is of weet hoe om vir hul toetse en eksamens voor te berei nie. Baie leerders het nie die voorreg om 'n naskoolsentrum by te woon waar hulle hulp en ondersteuning kan kry nie. Weens die maatskaplike toestand tuis is sommige leerders se ouers ook nie betrokke of ondersteunend genoeg om hul akademiese loopbane te bevorder nie.

In 2023 het ons die Eksamen-PEN-projek afgeskop deur 'n kursus oor studiemetodes aan te bied vir 30 graad 4-7-leerders wat akademiese uitdagings beleef en nie die finansies het om 'n kursus by te woon nie. Die projek is uitgerol deur die Solidariteit Helpende Hand Broederstroom-tak in samewerking met Mind Moves se Mieke Pienaar. Baie positiewe terugvoer is ontvang oor die impak wat dit op die leerders se selfvertroue, selfwaarde en punte gemaak het. Daar is toe besluit om die projek uit te brei na spesifieke skole in die Platinum-streek.

In 2024 het Solidariteit Helpende Hand Platinum-streek hande gevat met die opvoedkundige sielkundige Hannelie Zwarts en die projek twee keer by verskeie skole in die streek uitgerol. 'n Totaal van 105 leerders kon baat daarby. Positiewe terugvoer is ontvang rakende die toepaslikheid en praktiese wyse waarop Hannelie die kursus aanbied. Die gemeenskap het ons bygestaan met skryfbehoeftes en die maak van pennesakkies en daarvoor is ons baie dankbaar. Solidariteit Helpende Hand Platinum-streek se taklede het die projek ook ondersteun deur te help met die voorbereiding van voedsel en peuselhappies.

Ons wil die Eksamen-PEN-projek in 2025 graag verder uitrol.

Hoe kan jy daarby betrokke raak?

Solidariteit Helpende Hand Platinum-streek voorsien graag op die dag wat die opleiding aangebied word aan elke leerder 'n gesonde middagete en voldoende skryfbehoeftes vir die opleiding en eksamenvoorbereiding. Alle bydraes, hulp en ondersteuning uit die gemeenskap is baie welkom.

Ons het ook altyd mense nodig om pennesakkies vir die projek te maak. As jy 'n talent het om 'n eenvoudige pennesakkie aanmekaar te stik vir dié doel, kontak ons streekspersoneel gerus vir meer inligting.