Eksamen-PEN-projek

PLATINUM-STREEK

Eksamen-PEN-projek

PLATINUM-STREEK

IMG-20241004-WA0025
IMG-20241004-WA0011_-_Copy
20241004_081426_-_Copy2
20241004_0829482
IMG-20241004-WA0019

Eksamen-PEN-projek

By Solidariteit Helpende Hand heg ons nie net waarde aan die verligting van Afrikaner-armoede nie, maar ook aan die bemagtiging van kwesbare groepe binne ons gemeenskappe.

Ongeveer drie jaar gelede het Solidariteit Helpende Hand – Platinum Streek (wat die gebiede Magalies, Skeerpoort, Broederstroom, Hartbeespoortdam, Brits, Mooi Nooi en Rustenburg insluit) die dringende behoefte geïdentifiseer aan akademiese ondersteuning vir leerders in Graad 4. Ons het opgemerk dat baie van hierdie kinders se akademiese vordering afneem, veral waar daar min of geen ondersteuning by die huis beskikbaar is nie. Sosiale uitdagings dra dikwels grootliks by tot hierdie situasie.

Hoewel baie van hierdie leerders wel skool maaltye ontvang, kry hulle nie die nodige akademiese begeleiding om hul opvoedkundige toekoms te bevorder nie. Daar is ook 'n tekort aan basiese skryfbehoeftes en ‘n ondersteunende leeromgewing tuis.

Ons maatskaplike werker en streekorganiseerder het saam met opvoedkundige sielkundige Hannelie Zwarts ‘n praktiese oplossing ontwikkel. In samewerking het hulle die afgelope drie jaar vier skole in die streek geïdentifiseer waar leerders met besondere maatskaplike uitdagings worstel. Me. Zwarts bied ‘n spesialis-kursus aan wat leerders bemagtig met effektiewe studiemetodes en eksamen voorbereiding. Hierdie kursus word teen ‘n bekostigbare tarief aangebied, en kinders wat dit nie self kan bekostig nie, word deur hul skool of deur Solidariteit Helpende Hand Platinum gesubsidieer.

Elke deelnemer aan die kursus ontvang die volgende:

  • ‘n Handgemaakte penne sakkie, vervaardig deur VLU-lede en weldoeners uit die gemeenskap;
  • Basiese eksamen-skryfbehoeftes;
  • ‘n Voedingsryke ete, voorsien deur plaaslike Taklede van Solidariteit Helpende Hand;
  • ‘n “Regulering Teddiebeer”, gebrei deur senior burgers en kerkbedieningspanne, met die storie van Bennie Beer wat aan kinders vertel word om hulle te help met emosionele regulering tydens eksamens.

By Solidariteit Helpende Hand glo ons dat geen kind ooit die geleentheid tot uitnemende opleiding, opvoeding en ontwikkeling behoort te mis weens maatskaplike uitdagings nie.

In die afgelope twee jaar het meer as 350 kinders reeds voordeel getrek uit hierdie projek — kinders wat andersins nie toegang sou hê tot sulke ondersteuning nie.

Hierdie projek is slegs moontlik danksy die ondersteuning van die gemeenskap. U kan ook ‘n verskil maak deur:

  • By u plaaslike Ons Winkel aankope te doen of skenkings te maak;
  • Betrokke te raak as Taklid of ondersteuner van Solidariteit Helpende Hand;
  • Pennesakkies te maak;
  • Teddiebere te brei;
  • Skryfbehoeftes te skenk.

Saam met ons gemeenskappe maak ons ‘n volhoubare verskil!

Kontak ons streekspersoneel vir meer inligting:

Nadia van der Merwe (Maatskaplike Werker): 083 613 1238

Desirée Oosthuyzen (Streekorganiseerder):
WhatsApp: 081 074 6928
Bel: 078 365 8777