Seniors in Aksie se Kuier, Klets en Kielie die Spiere-projek

Ons gemeenskappe se senior burgers lê ons by Helpende Hand baie na aan die hart en ons besef dat oudword glád nie vir sissies is nie. Helpende Hand beskou dit as ons roeping om al ons belangegroepe, dus ook ons seniors, holisties te ontwikkel en ondersteun.
Dr. Melodie de Jager, ‘n opvoedkundige, motiveringspreker, Mind Dynamix-profileerder en ontwikkelingspesialis, het die Senior Mind Moves-program saamgestel. Sy het baie navorsing gedoen oor biomimiek in die veld van neurowetenskap. Senior Mind Moves is een van vyf programme wat sy saamgestel het. Dit is ‘n wonderlike program wat daarop toegespits is om ‘n kwaliteitlewe te verseker, selfs wanneer jy ouer word. Dit kan gedoen word deur nie te gaan “rus” wanneer jy aftree nie, maar deur aktief te bly en betrokke te wees by jou familie en in jou gemeenskap.
Met die Seniors in Aksie-opleiding en die Kuier, Klets en Kielie die Spiere-program poog Helpende Hand om soveel as moontlik seniors in ons gemeenskappe reg oor die land bloot te stel aan Senior Mind Moves. Ons wil seniors bemagtig sodat hulle op hul oudag vir hulself verantwoordelikheid kan neem en so lank as moontlik onafhanklik kan funksioneer.
Hoe doen ons dit?
Helpende Hand se maatskaplike werkers is as Senior Mind Moves-fasiliteerders opgelei. Die maatskaplike werkers lei weer op hulle beurt ons vrywilligers met ‘n passie vir seniors op om in hulle gemeenskappe in seniors se lewens terug te ploeg. Hierdie vrywilligers bied dan die 20 weke lange program in hul gemeenskappe aan met voortdurende ondersteuning van die streeks- maatskaplike werker.
Die Kuier, Klets en Kielie die Spiere-program is in 2024 in Brits uitgerol en in 2025 in Hartbeespoort.
As jy ‘n passie het vir senior burgers in jou gemeenskap, maak gerus kontak met ons streeks- maatskaplike werker: Nadia van der Merwe – 083 613 1238.