PLATINUM-STREEK

PLATINUM-STREEK

De Kroon-mamma’s se Koffiegesprekke: ’n Kosbare Tweejaar-reis van Ondersteuning en Saamstaan

Vir die afgelope twee jaar kuier die Solidariteit Helpende Hand-streekspan elke kwartaal saam met ’n besondere groep mammas van Laerskool De Kroon. Hierdie oop groep bied ’n veilige ruimte waar ma’s saamkom om mekaar te ondersteun, inspirasie te vind en bietjie asem te skep te midde van die eise van ouerskap en die lewe.

Soms gesels ons oor ernstige onderwerpe en uitdagings wat ouerskap en gesinslewe meebring. Ander dae bou ons aan mooi herinneringe, laat kreatiwiteit vloei en vul ons weer ons “bekers” sodat ons die belangrike taak wat voorlê met nuwe krag kan aanpak. Hier word daar gelag, gehuil, moed geskep en mekaar draend bygestaan — want niemand hoef alleen te stap nie.

Ons opregte dank gaan aan Laerskool De Kroon vir die platform en vir die verskil wat julle maak in die ondersteuning van julle ouers. Tydens ons laaste sessie van die jaar het ons gefokus op geestelike welstand — iets wat veral teen die einde van die jaar so broodnodig is. Ons is ook herinner aan ons waarde, en die belangrike waarheid dat ons identiteit in God geanker moet wees, nie in die wêreld om ons nie.

Elke keer besef ons weer hoe baie ons mekaar nodig het. Ons kan nie altyd mekaar se probleme oplos nie, maar ons kan wel saamstaan, mekaar positief ondersteun, mekaar liefhê — en soms is dit genoeg om kop bo water te hou, nog ’n paar tree te gee of die moedige keuse te maak om nié op te gee nie. Dít maak hierdie koffiemomente die moeite werd. Hierdie projekte word gratis aangebied deur Solidariteit Helpend Hand se streekspersoneel.  Hierdie projekte is alleenlik moonlik gemaak deur mense wat op enige mate die Ons Winkels in ons Streek ondersteun deur te skenk of deur te koop! So deur jou huis bietjie op te knap en die items wat jy vir jare nie meer gebruik nie te skenk, ondersteun jy projekte soos hierdie en skep jy hoop deur elke skenking wat jy maak! Dit is ‘n wen wen vir jou gemeenskap!

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie