PLATINUM-STREEK

PLATINUM-STREEK

Seniors in Aksie skop af in Hartbeespoort

Marita Berrisford, ‘n lid van Solidariteit Helpende Hand Harties Hande-tak, het in Augustus 2025 die Seniors in Aksie-program by Ellies Care Centre van stapel gestuur. Dr. Melodie de Jager se Mind Moves Institute het die program in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers saamgestel met die doel om die algehele welstand van bejaardes in die gemeenskap te bevorder.

Baie bejaardes in versorgingseenhede ervaar eensaamheid, moedeloosheid en nutteloosheid namate hul afhanklikheid van versorgers, die gemeenskap en – op finansiële vlak – die staat toeneem. Hierdie faktore kan aansienlike spanning skep en die Seniors in Aksie-program is ontwikkel om dit holisties aan te pak.

Marita Berrisford demonstreer Senior Mind Move-oefeninge te aan Ellies Care Centre se bejaardes

Die program strek oor 20 weke en fokus op die aanleer van Senior Mind Moves-bewegings. Die bewegings is gebaseer op beginsels uit die neurowetenskappe en biomimikrie en die doel is om die senuweestelsel te stimuleer, breinfunksies te verbeter, beweging aan te moedig en ontspanning te bevorder. Internasionale navorsing toon dat hierdie tipe bewegings langdurige voordele inhou, insluitend die vertraging – en soms selfs omkering – van sekere aspekte van die verouderingsproses.

Benewens die fisiese komponent, bevat die program ook ‘n sterk maatskaplike fokus. Dit bevorder emosionele, sosiale en geestelike welstand deur middel van gesprekvoering, musiek, groepsaktiwiteite en geleenthede vir sosialisering. Hierdie elemente dra by tot ‘n beter gemoedstoestand en help bejaardes om in sekere opsigte weer ‘n gevoel van onafhanklikheid te herwin.

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers lei taklede in hul onderskeie gemeenskappe op om die program by versorgingseenhede of in die breër gemeenskap uit te rol waar ‘n behoefte geïdentifiseer is.

Helpende Hand bied die opleiding gratis aan en rol ook die program gratis uit by versorgingseenhede. Dit is in 2024 reeds suksesvol uitgerol by Huis Bet-El in Mooinooi, ‘n tehuis wat bejaardes inneem wat slegs van ‘n SASSA-toelae leef.

Hoe kan die program gratis uitgerol word in die gemeenskap? Dit antwoord is eenvoudig: Omdat die Ons Winkels in die gemeenskap dit ondersteun. ‘n Groot gedeelte van die Ons Winkels se wins word net so teruggeploeg in gemeenskapsprojekte (sommige meer sigbaar as ander) soos die Seniors in Aksie-program!

Skakel gerus vir Nadia van der Merwe by 083 613 1238 vir meer inligting oor die Seniors in Aksie-program.

Nadia van der Merwe
Streeks- maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand Platinum-streek
083 613 1238

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie