Welstand van die Bejaarde: Projekopsomming
Die Solidariteit Helpende Hand Platinum-streek se Brits-tak het vanaf Augustus 2025 ’n viermaande Senior Welstand-program aangebied, met die finale sessie – ’n afsluitings- en Kersfeesgeleentheid – wat op 28 November 2025 plaasvind. In die Brits-gemeenskap bestaan daar tans baie beperkte versorgingseenhede vir bejaardes. Gevolglik woon talle seniors tot op ’n gevorderde ouderdom in hul eie huise en ervaar toenemende vereensaming, veral waar kinders en kleinkinders ver woon of na die buiteland verhuis het.
Die Senior Welstand-program het uit vyf sessies bestaan met ’n gemiddelde bywoning van 67 bejaardes per sessie. As ’n interkerklike inisiatief het dit gemeenskapsgeborgenheid geskep en aktief bygedra tot die vermindering van eensaamheid. Elke sessie is deur ’n verskillende predikant of spreker aangebied wat die tema van die dag aangespreek het. Hulpbronne uit die gemeenskap is beskikbaar gestel, en netwerke soos sosiale klubs, prokureurs en dieetkundiges het toepaslike aktiwiteite, wenke en praktiese advies gedeel.
By elke sessie is daar voorsiening gemaak vir verversings wat met sorg en in lyn met die tema voorberei is, sodat die deelnemers bederf en waardig kon voel. Elke bejaarde het ook ’n nalatenskapboekie ontvang waarin hulle, gebaseer op die temas, wysheid en lewenswenke vir die jeug kon neerskryf, saam met ’n foto van hulself. Hierdie boekies word tydens die laaste sessie ingehandig en sal saamgevoeg word tot ’n groter nalatenskapboek.
Temas wat gedurende die vier maande gedek is:
1. Geestelike Welstand – die skep van persoonlike gebedsborde.
2. Sosiale Welstand – deelname aan blommeklubs, VLU’s en darts.
3. Fisiese Gesondheid – voorligting deur ’n dieetkundige en deelname aan oefenklasse.
4. Finansiële en Emosionele Welstand – Afbob se insette oor boedelbeplanning en kreatiewe klei-aktiwiteite om emosionele welstand aan te spreek.
Die afsluitingsgeleentheid op 28 November 2025 fokus op die bevordering van welstand gedurende die Kersseisoen, aangesien baie bejaardes hierdie tyd as eensaam ervaar. Die doel is om die feestyd vir elke deelnemer positief en ondersteunend af te skop.
Hierdie volledige program is gratis aangebied vir alle bejaardes in die Brits-gemeenskap. Die sukses daarvan was moontlik danksy die uitsonderlike ondersteuning van die gemeenskap se skenkings en aankope by die Ons Winkels. Die fondse wat deur die Ons Winkels gegenereer word, stel ons in staat om projekte soos hierdie – en vele ander deur die hele streek – volhoubaar aan te bied.
Foto verduideliking: Marie van der Walt, Bejaarde fiksheid instrukteur in Brits het tydens die Fisiese welstand sessie vir die bejaardes ‘n voorsmakie van haar klas gegee en die bejaardes weer aangemoedig om te beweeg! Daar was selfs ‘n tannie van 82 jaar oud wat deel is van Marie se oefensessies!