Ons Winkels – Bou ‘n toekoms-kompetisie

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels is die fondament waarop volhoubare nasionale, streeks- en takprojekte in gemeenskappe in Suid-Afrika gebou word.

Hierdie projekte is daarop gemik om gemeenskappe se uitdagings te verlig, oorkom en in baie gevalle selfs te voorkom. In 2024 is die Platinum-streek se Ons Winkels as streekwenner van die jaar aangewys – ‘n prestasie wat ons met trots en dankbaarheid vier. Nou ploeg ons terug in ons gemeenskappe in deur saam met hulle ‘n toekoms te bou met die Platinum-streek se gemeenskapstudiefonds.

Neem deel aan die kompetisie! Vir slegs R50 kan jy ‘n verskil maak in die lewe van ‘n leerder uit jou gemeenskap. Gee hom of haar die geleentheid om te kan studeer!

Wat behels ‘n gemeenskapstudiefonds?

‘n Gemeenskapstudiefonds is ‘n plaaslik gefokusde fonds. Anders as nasionale fondse word gemeenskapsfondse geskep om plaaslike studente uit ons eie dorp of streek te ondersteun. Geld word ingesamel met eenvoudige, hartlike projekte soos die Bou ‘n Toekoms-kompetisie of deur die Ons Winkels in jou streek te ondersteun met WAARDIGE skenkings of met ‘n gereelde donasie aan die Platinum Gemeenskapstudiefonds.

Wat bied die Studietrust?

Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust bestaan uit ‘n groot aantal studiefondse. Die Studietrust bestuur ook Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapstudiefondse. Die Studietrust bied ‘n gedeeltelik rentevrye studielening aan verdienstelike studente wat aan enige geakkrediteerde Suid-Afrikaanse tersiêre instelling studeer. Sedert die ontstaan van die Studietrust kon Solidariteit Helpende Hand reeds altesaam 7 000 studente met ‘n totale bedrag van meer as R340 miljoen help. Hierdie fondse is nie net finansiële hulpmiddels nie; dit is ‘n belegging wat hoop en ‘n toekoms skep. Studente wat deur die Studietrust gehelp word, begin hul loopbane met ‘n gevoel van dankbaarheid en dat hulle iewers tuishoort. Sodra hulle begin werk, betaal hulle hul lening terug en daardie geld is dan beskikbaar vir ‘n volgende student. Dit maak dit moontlik om ‘n kringloop van ondersteuning te bou wat altyd weer nog studente kan help.

Elkeen van Solidariteit Helpende Hand se 15 streke en ook party takke het hul eie studiefonds. Die Platinum-streek se drie gemeenskapstudiefondse kon in totaal reeds toekennings aan 27 studente maak. Ons doelwit is om nog baie meer studente te help om te studeer sodat ons gemeenskappe die vrugte kan pluk wanneer daardie jongmense in hul gemeenskappe begin terugploeg.

Wat behels hierdie kompetisie?

Ons daag gemeenskapslede uit om by enige Ons Winkel in die Platinum-streek:

1) ‘n volledige uitrusting van kop tot toon aan te trek;

2) ‘n foto te laat neem by die winkel se pragtige fotohoekie;

3) die inskrywingsgeld van net R50 te betaal; en

4) te sê vir watter kategorie jy met jou foto inskryf.

Deelnemers staan ‘n kans om fantastiese pryse ter waarde van altesaam R1 000 te wen en om deur te dring na die hooftrekking in September waar nog groter kontantpryse gewen kan word!

Die geld wat ingesamel word, word aangewend ten bate van die Platinum-streek se Gemeenskapstudiefonds.

Kategorieë waarvoor jy kan inskryf

0-12 jaar

12-18 jaar

Vroue

Mans

Groepe

Belangrike datums:

Inskrywings open 20 Junie 2025.

Inskrywings sluit 20 September 2025.

Neem deel – Bou ‘n Toekoms vir jongmense in jou gemeenskap!

Skenk aan die Ons Winkels wat jaarliks baie bydra tot gemeenskapstudiefondse.

Skenk waardig, sodat die Ons Winkels hulle ware met waardigheid kan verkoop en ons die gemeenskap met waardigheid kan bedien!