Nasionale projek – Piet Tande
Piet Tande samel saam met die skole in die Platinum-streek tandepasta en tandeborsels in vir behoeftige kinders!
Hoekom toer Piet Tande by skole?
Dit is ons plig om die publiek se kennis oor mondhigiëne op te skerp. Ons kan die impak van siektetoestande en gesondheidsrisiko’s op die algehele gesondheid van ons jeug beperk deur skole van gesonde mondhigiëne bewus te maak.
Piet tande kom kuier al vir twee jaar in die Platinum-streek, maar in 2024 het hy die skole uitgedaag om ‘n praktiese verskil te maak in hulle gemeenskap. Piet Tande kom toer gratis by die skole in ons streek en vra in ruil daarvoor dat die skole wat kan tandeborsels en tandepasta insamel as deel van hul GEE 5-skoleprojek. Piet tande deel die tandeborsels en tandepasta dan weer uit by die skole wat ‘n behoefte daaraan het.
Piet tande het nege skole in April 2024 besoek en het vyf skole bederf met tandeborsels en tandepasta uit hulle eie gemeenskap. Kontak gerus ons streekorganiseerder of maatskaplike werker as jou skool in 2025 aan die inisiatief wil deelneem of as jy wil hê Piet Tande moet by jou skool ‘n draai kom maak.