Nasionale projek: HelpJag
Een van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers en streeksorganiseerders se grootste take is om hulpbronne in gemeenskappe op te spoor en by mekaar te bring sodat daar effektief in die gemeenskap se behoeftes voorsien kan word. Ons fokus daarop om gemeenskappe te aktiveer om in hul eie behoeftes te voorsien sodat die gemeenskap vanuit homself versterk kan word.
In elke gemeenskap is daar verskeie niewinsgerigte organisasies (NWO’s), welsynsorganisasies, voedingskemas, tehuise vir bejaardes en gestremdes, en kerke wat na kwesbare groepe in die gemeenskap omsien. Ons stap ‘n persoonlike pad met baie van dié organisasies. Die meeste mense in die omgewing is nie bewus van die hoeveelheid werk wat die organisasies in ‘n gemeenskap doen nie.
HelpJag is ‘n projek van Solidariteit Helpende Hand wat die onmisbare werk van hierdie instansies ondersteun en versterk. Die meeste van die organisasies kry kosskenkings, maar baie van die mense na wie hulle omsien, eet maande lank geen vleis nie bloot omdat dit nie bekostigbaar is nie.
Ons doen ‘n beroep op jagters om karkasse aan HelpJag te skenk wanneer hulle gaan jag. HelpJag verwerk die karkasse met die hulp van slaghuisondersteuners en versprei dan die vleis onder behoeftige instansies in die gemeenskap.
In 2024 kon Solidariteit Helpende Hand Platinum-steek ‘n totaal van 17 bokke se vleis (582 kg) ter waarde van R33 174 versprei. Ons kon baie organisasies in ons gemeenskappe bystaan met die hulp en goedhartigheid van jagters en die wonderlike inkoop van Broederstroom Butchery by die HelpJag-projek; hulle verwerking van die vleis het ongeveer R11 640 beloop.
Hoe raak jy betrokke?
STAP 1: As jy gaan jag en jy wil graag vir Helpende Hand ‘n bok skiet, kontak jou naaste taklid of streekspersoneellid. Kontakbesonderhede is op landingsblad aangedui[Editor1] .
STAP 2: Laat weet ons wanneer jy gaan jag, wat jy beplan om te skiet en aan watter gemeenskap jy die vleis wil skenk.
STAP 3: Laat weet ons watter slaghuis die vleis gaan verwerk. Daar is slaghuise in verskeie gemeenskappe wat die vleis gratis vir HelpJag verwerk.
STAP 4: Hoofkantoor kontak die slaghuis wat die verwerking gaan doen en stuur die nodige vorms aan hulle.
STAP 5: Wanneer jy die karkas by die slaghuis afgee, vul jy jou besonderhede in sodat ons jou kan bedank.
STAP 6: Die slaghuis doen die nodige verwerking en verpakking en laat weet die streekspersoneel wanneer die vleis gereed is om afgehaal te word.
STAP 7: Die vleis word dan versprei onder verskeie kerke, NWO’s, voedingskemas, tehuise, sorgeenhede en skole in die gemeenskap waar Solidariteit Helpende Hand reeds behoeftes geïdentifiseer het.
By voorbaat dankie vir jou bydrae wat ‘n blywende impak op jou gemeenskap maak! Volg die Platinum Streek se Facebook-blad om te sien waarheen die vleis versprei word!
HelpJag het hierdie jaar al drie keer bygedra tot Laerskool Broederstroom se voedingskema. Hulle staatstoelae is nie genoeg om die kinders daagliks van ‘n gebalanseerde ete te voorsien nie. HelpJag se skenkings het dit moontlik gemaak om in die winter vir die kinders vleis as deel van hul etes te gee.
CMR Brits bedien die kwesbaarste gesinne in die omgewing van Brits, Hartbeespoort en Mooinooi. Hulle het altyd ‘n geweldig behoefte aan kos. Baie van die gesinne wat hulle bedien, is pleegouers of plekke van veiligheid wat dringend moet omsien na kinders wat uit hul ouerhuise verwyder is. Hulle bedien ook gesinne wat in materiële nood verkeer waar gesinne, kinders en bejaardes hulself in krisissituasies bevind. HelpJag kon hulle vrieskaste dié winter twee keer volmaak.
Ons het 237 kg vleis versprei onder skole en NWO’s met voedingskemas in die Rustenburg-omgewing. Een van die organisasies waarby die Solidariteit Helpende Hand Rustenburg-tak baie betrokke is, is die Santa Fe Sorgsentrum vir bejaardes. Die eienaar, mev. Louise Tabb, en haar span sorg vir ‘n groot aantal bejaardes wie se enigste inkomste ‘n SASSA-toelae is. Om so ‘n versorgingseenheid te bestuur, het baie uitdagings, veral op ‘n finansiële vlak. Die organisasie versorg en behandel die bejaardes met absolute deernis en respek en dit was ‘n voorreg om hulle met die vleis te kon bederf.